Hoe ‘n ‘silent auction’ werk

Vanaf 08h00 Saterdagoggend die 24ste Julie gaan alle perde vertoon en individueel vir die kopers gewys word terwyl kommentaar oor elke perd gelewer sal word . Die veiling begin dan om 10h00. Die afslaer sal aan hoof van die Vleissentraal administratiewe tafel staan en alle transaksies sal deur hulle hanteer word.

Die hoof beginsel van hierdie ‘silent auction’ is dat mens ‘n bod vir die twee ure wat die veiling duur op enige perd kan maak, maw die 46 perde is gelyk in die mark vir die volle duur van die veiling. Daar is ‘n groot wit bord waarop al die lot nommers met hul intreepryse verskyn en tydens hierdie twee ure kan enige voornemende koper op enige perd ‘n skriftelike bod by die tafel gaan insit. Die pryse word deurgaans opgedateer en sodoende kan mens die perde waarin jy belangstel se pryse volg en teenaanbiedinge gaan insit indien jy sou wou. Geen perde sal teruggehou word indien hulle ten minste hul intreeprys behaal nie. Maar die perd sal aan die koper wat die hoogste aanbod bo sy intreeprys maak, verkoop word. Dus kan enige voornemende koper met ‘n perd huistoe gaan omdat hy al die perde se pryse kan dophou. Ons strewe vir hierdie veiling is om al 46 perde te verkoop en vir die koper ‘n rustige kans en veilige omgewing te skep waarin hy ‘n perd van sy keuse kan kom koop.